TITIA BALLOT wys die brief waarin die toekenning van die Akademie gemotiveer word. Haar vinger gly oor die reëls: “ . . . feitlik die enigste Suid-Afrikaanse grafiese kunstenaar wat helder in die kollig uitgestaan het met haar Christelike boodskap van versoening en heling”.
“Ek het dit nie verwag nie, want dis hoe ek uit my belewenis my werk aanpak. Ek staan self krities teenoor my werk, en wat ek oordra, beleef ek intens,” verduidelik sy.
Die onderwerp vir gesprek bied hom dus outomaties aan in die begrip van “versoening en heling” in die kuns.
Ons skuif na ’n hoekie in die rustige “aftreehuis” in Onrusrivier en kyk na van haar werke van die laaste twee dekades.
Dit tref dadelik dat sy uiterste simbole versoenend laat meewerk. By Terugblik II (serigrafie) van 1986 is ’n subtitel: Breekware van die Revolusie. Meissner-porseleinskerwe sweef tussen gekerfde houtpanele, tipies van die tradisionele Venda-kraal.
In die 1987-reeks Vanitas kyk ons na ’n kleur-geëtste Hugenote-gietvorm waar die heraldiese elemente van drie Hugenote-families van wie sy afstam prominent vertoon word. Op die voorgrond lê op ’n verlate grasveld die oorspronklike gietvorm gebreek.
In die kleur-ets Offersteen (1994) lê skerwe van ’n Voortrekker-monument-gedenkbakkie, ’n gebreekte Afrika-pot en Oosterse porseleinfragmente saam met ’n antieke Griekse maalsteen in ’n geploegde land – produkte uit verskillende kulture opgeoffer in die verwagting van ’n nuwe kultuur-identiteit. Die Monumente-reeks (1998) getuig van haar innerlike stryd ná die bywoning van sittings van die Waarheid-en-Versoeningskommissie se sitting in Stellenbosch. In Triptiek vir die Beloofde Land (1994-’98) word teruggegryp na Christelike merkers en die Ou-Testamentiese geskiedenis van Abraham wat na Christus as offerlam deurgetrek word.
Die middelpaneel, Moria, het die aanbiddingsplek van die Sionistiese Christelike kerk duskant Polokwane as fokus. Hier word ’n parallel getrek tussen die berg Moria in Palestina, waar Abraham sy seun Isak sou offer, met Israel se trek na Kanaän en Suid-Afrikaners wat ná 1994 op pad na die beloofde land kan wees.
Die begrip versoening kom, sê Ballot, vir haar natuurlik. “Dit is deel van wie ek is. Ek kom so uit my ouerhuis.”
Sy vertel van haar skooljare in die vyftigerjare in Pretoria, toe haar ouers heel natuurlik vriende van Atterridgeville en Mamelodi in hul huis in Muckleneuk ontvang het. Sy’s geleer om met mense as gelykes binne die begrip van naasteliefde om te gaan.
“Dit is wie ek is. Dis dieper in my gewortel as wat ek self besef het. Dis nie vroom praatjies nie, dis die betekenis daarvan om my Christenskap uit te leef. Ek is positief ingestel. Ek glo mense se harte kán verander. Jy kan oorbegin. Hierin plaas ek my begrip van heling.”
Daar is nie ’n gevoel van aarseling nie as sy sê dat sy dít by die WRK-sittings aangrypend meegemaak het. “Daar is by elke mens die moontlikheid van erkenning van skuld, om jammer te wees, om vergifnis te vra en te verkry, wat dan tot innerlike heling lei.”
Maar hoe word dit in kuns vergestalt? Vir Ballot is dit ’n persoonlike pad wat sy moes loop. Sy is trots op haar Hugenote- en Afrikaner-herkoms. Sy het die Voortrekker-monument se inwyding meegemaak. By haar was daar nooit ’n identiteitskrisis nie. Maar toe bevind sy haar in Bonn, waar haar man, Muller Ballot, drie jaar lank kultuur-attaché was.
“Skielik is ek gedwing om na dinge te kyk wat ek nooit voorheen eens oorweeg het nie. Ek moes polities vanuit die buiteland na my land kyk en besef dat die beeld van die Afrikaner en sy leiers nie dit was wat ek as vanselfsprekend aanvaar het nie,” vertel sy en erken dat dit ’n ervaring was van “skille wat van oë” afgeval het.
Hoewel Europa vir haar ’n voedingsbron is wat sy gekoester het, is haar wortels onlosmaaklik in Afrika. “Hierdie twee kontinente is vervleg in my, en ek durf nie langer apart van ander kulture van Afrika staan nie. Kultuurgrense móét oorgesteek word. Brûe van begrip moet gebou word. Ons moet ons etniese maskers afhaal en mense as mense raaksien.”
Ek dink hieroor na terwyl ons kyk na Die Ini siante (kleur-ets 1987) waarin dit vir Ballot gaan oor die uitruil van kultuursimbole. Hierin word ’n Sotho-vrou wat geïnisieer word, getoon met ’n Voortrekkerkappie wat haar gesig bedek. Langs haar staan ’n wit vrou met die tipiese hooftooisel van Sotho-inisiasie. Hier gaan dit nie om ’n prysgawe nie, maar om verryking deur wedersydse erkenning.
Sy vertel hoe sy geworstel het met begrippe op soek na hierdie bevryde identiteit om Afrikaan of Afrikaner te wees. “My werk is my enigste kommunikasiemiddel. Ons moet werk met ons stories hier in Afrika.”
Ballot is eintlik met proteskuns besig. Sy’s ’n aktivis. Sy protesteer teen vooroordele oor ons gesamentlike verlede wat verdelend is.
Sy pleit in haar werk vir bevryding. Die seggingskrag van haar werk is versoenend, met die potensiaal om helend in te werk.