TITIA BALLOT DIE DRUKGRAFIESE VIRTUOOS

Die prosesse van drukgrafika het ontstaan uit ’n behoefte om inligting en afbeeldings te vermenigvuldig. Die eerste houtsneedrukke dateer reeds uit die 15e eeu. Daarna het kopergravure, ets, litografie, serigrafie en uiteindelik die verskillende kontemporêre drukgrafiese tegnieke ontstaan. Al hierdie prosesse was kumulatief en die hedendaagse drukgrafikus is in die geleentheid om uit ’n groot verskeidenheid daarvan te kan put. Titia Ballot is een van dié kunstenaars wat haar tot die hoogste vlak in hierdie tegnieke geskoei het en dit as draers gebruik vir haar eiesoortige inhoud.

In bykans elke kritiek wat oor die dekades oor Titia Ballot se werk gelewer is, kon die kritikus of resensent nie nalaat om na die voortrekflikheid van haar deeglike vakmanskap te verwys nie.

Soos hierbo in die rubriek Beginjare genoem is, het Titia Ballot aanvanklik op skilder (olie en waterverf) gekonsentreer, maar van die laat jare 70 af span sy al meer die grafiese medium in, veral uit hoofde van haar doseeropdrag aan die PU vir CHO, waar sy na hul terugkeer uit Duitsland weer inval en in 1987 as departementshoof benoem word. Mettertyd bemeester sy ’n verskeidenheid grafiese drukprosesse waaronder litografie (sy volg ’n gespesialiseerde jaarkursus in Duitsland, collagrafie, serigrafie en diepdruk. Dit is egter laasgenoemde wat haar blywend inspireer om tegnies steeds vernuwend te werk te gaan. So ontgin sy, byvoorbeeld, in haar jongste werk suurvrye etstegnieke, graveertegnieke op perpeksplate en die benutting van chine collé (dun Japanese papier) in kombinasie met die diepdrukproses. Meer onlangs maak sy ook gebruik van ’n koolstof-kopieertegniek (Xerox)

As gevolg van haar duidelike meesterskap in hierdie fisiese betrokkenheid by die kunsmaak-proses, is sy oor die dekades heen in die media beskryf as ‘n virtuose grafiese kunstenaar, met ‘n sonderlinge vertroudheid met etstegnieke en vaardigheid in teken (Riena van Graan,1980) en:

“elegance, simplicity, good craftwomanship [who]… knows her etch and her press, and turns out a neat job with her excellent graphics” (Georges Duby, 1980).

‘n Dekade later word dieselfde lof haar steeds in hierdie verband toegeswaai: “Ballot se werk is hoogs professioneel – byna serebraal. Elke tegniese moontlikheid en probleem van die medium waarin sy werk, is ondersoek en onder beheer gebring. Titia Ballot se werk is egter nie beperk tot blote tegniese afgetrokkenheid nie. Sy benut haar vaardighede om uitdruking te gee aan haar self-bewuswording, filosofie en angs wat voortgebring is uit haar plek in die samelewing en geskiedenis. Haar uitbeelding is geweldig persoonlik en geslote. Riglyne is nodig om die outobiografiese verwysings te verstaan” (Frieda Harmsen, Junie 1990, tydens ‘n uitstalling van Titia Ballot, Sheila Nowers en Margaret Roestorf, Gencor-galery, RAU, Johannesburg).

Haar jongste werke is nog nie aan die kritiese oog van die publiek of kunsresensent uitgelewer nie, maar kenners sal dit sonder twyfel weer die lof gee wat dit verdien.

SLOTOPMERKING

Suid-Afrika het in die “struggle jare” sy kwota aan versetkunstenaars gehad wat in lyn en kleur geprotesteer het teen die politieke onreg, of die geweld wat gepleeg is. Maar totdat ek verkeerd bewys word, wil ek die stelling maak dat Titia Ballot die enigste Suid-Afrikaanse drukgrafiese kunstenaar is wat helder in die kollig uitstaan met haar Christelik-gefundeerde boodskap van versoening en heling. Sy het nie geskroom om onreg uit te wys (Goeie Vrydag op Graaff-Reinet) of teen komende onheil te waarsku nie (Visioen by Uitkyk, Wind in die Wingerd ), maar het ook gepleit vir die verstaan van die ander se “andersheid” (Die Inisitante) of van haar eie prysgegee om te assimileer met die ander.(Soektog)

Daarom is ek geneig om met Judith Mason saam te stem: “There is a quality of serenity, a quality of love about these pictures and a quality of reaching out to heal and patch up and balm, which is very, very rare and very, very effective indeed”.

Titia Ballot se hart klop reg: krities-trots op haar historiese Europese wortels, maar ook vol deernis vir hierdie land, Suid-Afrika, waar die pad na versoening en heling nog nie klaar geloop is nie.

Saamgestel deur:

Lydia M de Waal
Stellenbosch, Winter 2007

“If prints are a form of social practice, then in times of change they are charged not only with ink, but with resonances that are invariably political,
whether as blatand party propaganda, or in a more metaphisical sense.Like many other cultural forms, they constitute a site of resistance”
(Hobbs P.& Rankin E., 1997:3 Printmaking in a transforming South Africa. Cape Town: David Philip)