Dit gebeur selde dat ‘n beeldende kunstenaar en ‘n digter ontdek dat hulle gelykgestem op ‘n gelyksoortige ervaring reageer. Die resentste deel van hierdie uitstalling verteenwoordig Titia Ballot se reaksie op haar Wes-Duitse verblyf vanaf 1982 tot 1985. Vir ‘n Suid-Afrikaner en veral vir die ideologies-beskermende en geïsoleerde Afrikaner verskaf so ‘n verblyf nuwe perspektiewe op sy land en op sy verbondenheid aan die wit stam van Afrika.

Gedurende 1983 was ek met studieverlof in België. Dié ondervinding – wat vir my traumaties én verrykend was – het beslag gekry in die digbundel BREEKWARE VIR DIE REVOLUSIE wat in 1984 verskyn het. Slegs een werk op hierdie uitstalling ( Terugblik II ) is direk deur die sentrale beeld van daardie bundel geïnspireer. Tog vind ek dat Titia Ballot se simboolgebruik en wyse van formulering verbasend nou verwant is aan die motiewe en styl van BREEKWARE VAN DIE REVOLUSIE. Die titelgedig van die bundel klink só:

my vrou kies die fynste porseleinservies
wat triomfantelik tril as mens
dit tentatief met die vinger toets –
so vervul sy hier ‘n lewenswens

versigtig word elke stuk in strooi verpak
SAL sal dit huis toe vlie
in rooi letters skryf ek op die krat
BREEKWARE VIR DIE REVOLUSIE

Titia stel in talle van hierdie grafiese werke die rassebotsing in Suid-Afrika as ‘n intense en dikwels geweldadige akkulturasieproses voor. Daarom vind ‘n mens in Kultuuroffers dat nie net die Voortrekkergedenkfeeskoppie aan skerwe lê nie, maar dat ook die inheemse klipwerktuie versplinter is. Drie eeue al is onder die skroeiende son van suidelike Afrika die verwestering van die oorspronklike inwoner en die afrikanisering van die Europese immigrante en koloniste aan die gang. Dat die proses ons nie noodwendig in egte kontak met mekaar bring nie, maar ons uitsig op mekaar kan maskeer, vind u uitgebeeld in Die Inisiante.

Titia Ballot dink sowel in terme van visuele simbole as in terme van taaltekens. Myns insiens is dit wesenlik ‘n digterlike werkwyse, of ten minste dan ‘n werkwyse waarmee ‘n digter hom kan identifiseer. Haar woordgevoeligheid blyk uit die werke waarby tekste van allerlei aard ingelyf is. Ek dink veral aan Die Protestante, Geboorteplek, Kaart en transport en
Tussen Bloemfontein en Maseru.

Sodra daar in die vorm van taal gedink word, is dit onvermydelik dat ‘n verhaalelement die werk sal binnekom. By Titia word die anekdotiese

aspek verteenwoordig deur die invoering van persoonlike, biografiese gegewens. Hierdie eienskap van haar werk word miskien die beste geïllustreer deur Geboorteplek. Sy ontgin ook haar Hugenote-herkoms (sy is ‘n nooi du Toit), soos blyk uit Hugenote gietvorm en Die Protestante. So ‘n ek-gerigtheid is tipies van die liriese poësie.

Die ander helfte van hierdie uitstalling het ontstaan vóór haar vertrek na Europa. Opvallend van die werke is haar bemoeienis met die tyd en ruimte. Sy gebruik veral visfossiele (ook ‘n skilpaddop en oerskulpe) as voorstelling van die voortdurende en onuitwisbare verlede. Een van die stukke dra ‘n aanhaling uit T.S.Elliot as titel: “The still point in a turning world….” Toe ek na hierdie werke gekyk het, het ook ander Elliot-reëls uit
“FOUR QUARTETS” by my opgekom:

Time present and time past
Are both perhaps present in time future,
And time future contained in time past.

Wat Titia vóór haar Europese verblyf op abstrakte wyse in tydlose simbole
verken het, naamlik tyd en ruimte, word ná haar terugkeer aktueel en etnies ingevul. Die tydlose voorwerpe word tyd- en plekgebonde objekte, soos die doloskakebeenwa en etniese kralewerk ( laasgenoemde in Terugblik I ).

Die fossiele hou miskien – agterna beskou – ‘n waarskuwing in vir die wit stam van Afrika. In BREEKWARE VIR DIE REVOLUSIE het ek dit soos volg probeer formuleer:

ek is die afskuwelike albino van Afrika
met ‘n geïriteerde kleurgevoelige retina

uit vervloë koloniale tye die vergete
skipbreukeling en Europa se stink gewete

net nog ‘n gepantserde dier wat nie kan aanpas
en sal wegsink in die Karoo se ewige moeras

Die“FOUR QUARTETS” – aanhaling oor die onuitwisbare tyd gaan só voort:

If all time is eternally present
All time is unredeemable

Met die kunswerke hier om u het Titia Ballot egter iets betekenisvols uit die tyd vir ons tyd verlos.

Daniel Hugo (Afrikaanse digter en letterkundige)